Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 8 FEBRUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans, en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met diep leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee radioamateurs stil geword het.

Die sleutel van John Whitfield, ZS6WL, het op 29 Januarie, op die ouderdom van 65 jaar stil geraak. John het die stryd teen kanker verloor. Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou, Sue, dogter, Sam en seun, Chris, familie en baie vriende.

Die sleutel van Hennie Pottas, ZS3HP, het op Donderdag 29 Januarie 2009 stil geword. Ons betuig ons innige meegevoel met sy moeder, sy vrou, Rita, seun, Abrie, ZR3AAM, familie en baie vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DIREKTEUR-GENERAAL VERLAAT DIE DVK

BESPREEK VIR DIE GAUTENG, EN KAAPSE, PIC-PROGRAMMERINGSKURSUSSE

SARL BROSJURE – KLUBS STADIG OM TE BESTEL

DIE NAMIBIESE DX-PEDISIE ’N GROOT SUKSES

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIREKTEUR-GENERAAL VERLAAT DIE DEPARTEMENT VAN KOMMUNIKASIE

Lyndall Shope-Mafole het haar pos as direkteur-generaal van die Departement van Kommunikasie (DVK) ontruim. Haar aanstelling as die mees senior staatsamptenaar in die DVK was veronderstel om tot 2011 te strek. Lyndall was goedgesind teenoor amateurradio. Tydens haar voorsitterskap van die ITU-raad ‘n paar jaar gelede, het sy nou saamgewerk met die vorige IARU-president, Dr. Larry Price, W4RA.

SLEGS ‘N PAAR DAE OOR OM TE BESPREEK VIR DIE GAUTENG, EN KAAPSE, PIC-PROGRAMMERINGSKURSUS

Daar is nog plekke op die Gauteng en Kaapse PIC-programmeringskursusse. Die NARS kan nog nege deelnemers huisves. Die datum is 7 Maart 2009. Die Kaapse kursus in Belville op 14 Maart het nog 10 plekke. Die sluitingsdatum vir besprekings is 10 Februarie 2009 vir Gauteng en 12 Februarie vir die kursus in die Kaap.

Vir volledige besonderhede, besoek die SARL se webwerf by www.sarl.org.za, kies ‘Activities’ en klik op RTA. Volg die instruksies hoe om te registreer. Geen besprekings word bevestig voordat die betalingsbewys ontvang is nie. Stuur alle korrespondensie slegs na rta@sarl.org.za en aan geen ander adres nie.

Die Durban-kursus is vol bespreek. Neem asseblief kennis dat die kursuslokaal verander het na die Universiteit van KwaZulu-Natal se Howard-kollegekampus. Besonderhede en ‘n kaart is beskikbaar op die RTA-bladsy op die SARL se webwerf.

SARL-BROSJURE – KLUBS STADIG OM TE BESTEL

Verlede jaar het die SARL ‘n brosjure laat druk wat gebruik kan word om amateurradio te bevorder. Dit is ook beskikbaar vir aflaai van die webwerf. Gedurende die onlangse Presidentsnet is daar opgemerk: "Sal dit nie lekker wees as ons ‘n brosjure gehad het nie?"

So ‘n tyd gelede is klubs genooi om die kantoor te kontak om ‘n voorraad van die volkleurbrosjure te bestel vir plaaslike gebruik. Slegs enkele klubs het hierop gereageer. Klubs word herinner dat hulle die brosjure kan bestel deur by die kantoor ‘n draai te maak of ‘n e-pos te stuur aan Mariska Faasen en ‘n voorraad van 50 of 100 kopieë te bestel. Mariska se e-posadres is admin@sarl.org.za. Die brosjure is bedoel vir inligting aan nie-amateurs.

TEN SPYTE VAN TERUGSLAE IS DIE NAMIBIESE DX-PEDISIE ’N GROOT SUKSES

Swaar winde, geen elektriese krag nie, en toerusting wat in rook opgaan was nie genoeg om die geesdrif van die Januarie 2009-Namibiese BHF- en Satelliet-DX-pedisie te demp nie. Dit was ‘n groot sukses.

Verwagtings is oortref op die aard-maan-aard-kant, maar van die oorspronklike doelwitte is nie bereik nie weens verskeie tegniese en operasionele redes. Die AMA-werking het beïndruk. Op 144 MHz-AMA is 231 stasies gekontak in 47 DXCC-entiteite op alle kontinente. Van hierdie kontakte is 230 gemaak met die WSJT- en JT65B-modusse en een op GG. Op 432 MHz-AMA is 18 verskillende stasies gekontak in 13 DXCC-entiteite, 16 met JT65B en vyf op GG. Op 1 296 MHz-AMA is 18 verskillende stasies in 12 DXCC-entiteite gewerk, 17 met JT65B en een op GG. Die SARL was een van die borge van die DX-pedisie.

Vir ‘n meer volledige verslag, lees die volgende uitgawe van Radio ZS wat binne die volgende twee weke gepos sal word. ‘n Gedetailleerde dag-tot-dag-verslag deur Hal Lund, ZS6WB, is beskikbaar by www.amsat.org.za.

MOENIE DIE SARL SE NASIONALE KONVENSIE MISLOOP NIE

Die SARL se Nasionale Konvensie, wat van 23 tot 26 April 2009 in die groter Kaapstad-gebied plaasvind, moenie misgeloop word nie. Programbesonderhede is nou op die webwerf beskikbaar en sal in die Januarie/Februarie-uitgawe van Radio ZS gepubliseer word.

Lede buite hierdie gebied word aangemoedig om vroegtydig hul reisreëlings te tref om sodoende te kwalifiseer vir verskeie afslagpakkette wat deur verskeie lugdienste 'aanlyn' aangebied word. 'n Lys met bed-en-ontbyt-akkommodasie word tans opgestel en sal eersdaags op die web beskikbaar wees.

KOMPETISIENUUS

Die eerste been van die SARL se HF-velddag met foon- en gelykgolfwerking op 10 tot 160 meter sal op die lug wees oor die naweek van 14 en 15 Februarie. Die velddag begin om 12:00 SAT op Saterdag 14 Februarie. Die doel met die kompetisie is om Suider-Afrikaanse amateurstasies betrokke te kry by ‘n kompeterende en sosiale geleentheid. Dit geskied onder gesimuleerde noodtoestande. Die kompetisie is oop vir alle gelisensieerde radioamateurs in Suider-Afrika.

Die SARL HAMNET-40 meter gesimuleerde noodkommunikasiekompetisie word op Sondag 1 Maart 2009 van 14:00 tot 16:00 SAT gehou. Hierdie ESB-kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marion-eiland en die Suid-Afrikaanse basis op Antarktika. Slegs kontakte met hierdie areas sal tel vir die kompetisie.

Die reëls vir beide kompetisies kan gevind word in die 2009 SARL-kompetisiehandboek. Die nuwe reëls vir die 2009-SARL BHF/UHF-kompetisie sal eersdaags beskikbaar wees en die Kompetisieboek sal opgedateer word.

KLUBNUUS

Die Bloemfontein Radioamateurklub betrek ‘n nuwe klubhuis by die Leeuwbergmuseum suid van die stad. Die klub gaan betrokke raak by die aktiwiteite van die museum en amateurradio bekendstel. Die Leeuwbergmuseum is tydens die 2008 SARL se nasionale konvensie besoek.

Die Magalies Radioamateurklub begin binnekort, op 14 Februarie 2009, met klasse vir voornemende radioamateurs. Die klasse sal vanjaar gelyktydig op drie verskillende plekke aangebied word, nl. die MRK-klubhuis in Waverley, die Hoër Tegnologiese Skool John Vorster, Queenswood, en in Centurion. Belangstellendes kan Marten du Preez kontak by 012 332 2104.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as vyf wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20 m-openinge na Indië vanaf 14:00 SAT. Kontakte met Nieu-Seeland gaan uitdagend wees. Om 08:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is baie onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik op 15 m vanaf 14:00 en 20 m vanaf 19:00 gewerk word. Vanaf ongeveer 14:00 is daar moontlike kort, swak 15 m-openinge na Europa, wat deur kort 20 m-openinge gevolg gaan word. Kontakte met die VSA se Ooskus is op 15 m vanaf 18:00 moontlik en later die aand kan 20 m ook oopmaak. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate te lewer oor korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word lewendig voor oggendtee. Saans is 80 m die beste keuse. Met die somer nou in volle swang kan donderstorms en geraas agv. statiese ontladings uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

14 en 15 Februarie – SARL se HF-velddag;
15 Februarie – Sluitingsdatum vir inskrywings vir die Tinus Lange-toekennings;
21 Februarie – PIC-kursus in Durban en HAMNET Suid-Gautengvergadering;
1 Maart – HAMNET 40 meter-kompetisie;
21 Maart – BACAR-lansering;
24 - 26 April – SARL se Nasionale Konvensie in Kaapstad.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n PODCAST-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel, en deur Jannie, ZR6PHD, geredigeer is.

Dankie dat u geluister het. 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003